Wat van die Wagters?
(Onderskeiding 6)

Elke gelowige het die verantwoordelikheid om self op die uitkyk te wees vir dwaling en misleiding (Op 3:11).Die Here het ook ouderlinge in die plaaslike gemeentes gestel om op die uitkyk te wees vir wolwe wat die kudde wil verskeur (Hand 20:18-30).

In die laaste dae vermeerder en versprei dwalinge vinniger as wat die gemiddelde herder of gelowige mee kan byhou. Elke dag bring ‘n nuwe dwaalleer en met die moderne media en die vermoë om die wêreld in ‘n dag te kan deurkruis, is dit moontlik dat hierdie nuwe dwalinge die wêreld deur kan versprei binne enkele ure nadat dit tot stand gekom het. Dikwels is hierdie nuwe leringe so slim gekamoefleer dat dit letterlik ‘n spesialis benodig om dit nie net te herken nie maar ook om ‘n verweer daarteen te formuleer.

Gevolglik het die Here ‘n spesiale groep mense opgeroep wat die unieke gawe besit en gevolglik toegerus is om as wagters vir die kerk op te tree. Toe Nehemia die mure van Jerusalem herbou het, was die aanvalle so voortdurend dat daar ‘n spesiale groep manne was wat die opdrag gehad het om op die uitkyk te wees vir die vyand (Neh 4:9, 16) ten einde die wat met hulle wapens in die een hand gearbei en gebou het, by te staan (Neh 4:17-18). Dit sal vir my onmoontlik wees om my pligte as herder van my kudde na te kom terwyl ek ook nog daagliks tred moet hou met die baie nuwe dwalinge wat na vore kom. Ek is derhalwe uiters dankbaar teenoor diegene wat hulleself daaraan toewy om die winde van vals doktrine te monitor, dit te ondersoek en antwoorde daarteen te formuleer.

Maar, soos in elke area van werk vir die Here, is daar die goeie, die slegte en die lelike. Die blote feit dat iemand dwaling uitwys, beteken nie dat daar nie dwaling in sy eie leringe is nie. Sommige dwaal in leerstellings, maar ander dwaal in hulle houding of in hulle lewenstyl. Dit is derhalwe baie belangrik dat ons onderskeiding moet maak tussen die goeie en die slegte onderskeidings bedieninge.

In ‘n sekere sin is hierdie seker die maklikste bediening waarin iemand deesdae betrokke kan raak. Die rede is dat dit altyd makliker is om die foute van ‘n ander uit te wys as wat dit is om daardie foute reg te stel. Sommige mense, wat self nie ‘n enkele gedeelte of stukkie kan skryf of preek tot opbou van die gemeente nie, raak dan betrokke by die gooi van klippe. Dit is makliker om iets af te breek as wat dit is om dit op te bou. Net so is dit makliker om fout te vind as wat dit is om die waarheid te verkondig. Baie raak betrokke in hierdie tipe van bedieninge omdat hulle wraak wil neem vir iets wat in hulle verlede gebeur het, of omdat hulle graag in ‘n bediening betrokke wil raak maar nie enige gawe het om dit te doen nie. Sommige doen dit net ter wille van die ego en omdat hulle ‘n probleem het met hoogmoed.
Hier is ‘n paar belangrike vrae wat gevra moet word omtrent onderskeidings bedieninge.

Wat is die ingesteldheid wat na vore kom? Is dit een van arrogansie en hoogmoed? Dink die mense dat hulle beter is as die “armsalige ketters”? Of ween en treur hulle opreg oor die staat waarin die kerk haarself bevind? Praat hulle in nederigheid en deur genade, welwetende dat hulle slegs deur God se genade behoue bly? Dink hulle dat hulle beter is al al die ander en dat hulle God se enigste oorblyfsel is?

Wie is die gesigte agter die betrokke bediening? Wat is die stand van hulle persoonlike lewe? Het hulle ‘n geskiedenis waaruit dit blyk dat hulle getrou die kerk gedien het en gestaan het vir die waarheid? Hou hulle gemeenskap met ander gelowiges en bedieninge en is hulle lidmate van ‘n plaaslike gemeente?  Of is hulle net los kanonne? Wat is hulle motivering? Is dit weerwraak, wins, roem of aansien? Of is dit ‘n liefde vir God, Sy Woord en Sy kinders? (Die artikel “Wie is Wie” is van toepassing op sowel onderskeidings bedieninge as op predikers.)

Word hulle aantygings gerugsteun deur behoorlik gedokumenteerde navorsing, bevestig deur geloofwaardige getuies en die getuienis van beproefde ondervinding? Of is dit gebaseer op tweedehandse gerugte en afgeleide skuldigbevindinge? Baie van hierdie bedieninge kan mense oneer aandoen deur ongegronde beweringe van assosiasie - byvoorbeeld ‘n bewering van assosiasie sonder enige erkende verbintenisse wanneer dit gebeur dat iemand bloot toevallig saam met ‘n bekende ketter deur dieselfde lughawe gebou beweeg. Steun hulle op sinspeling, gerugte en aanhalings wat buite verband geneem word? Of steun hulle op feite, getuienis, geboekstaafde geskiedenis en dokumente?

Is hulle geloofwaardig? Met ander woorde, weet jy dat jy hulle kan vertrou? Oordryf hulle of plak hulle aan net om ‘n punt oor te dra? Het jy al opgemerk of hulle leuens vertel of is hulle mense met integriteit? Is hulle beoordeling gebalanseerd of is hulle bevooroordeeld? Het hulle ooit iets goed te sê van iemand of kan hulle net altyd oor die slegte en verkeerde praat?

Het hulle samesweringsteorieë? Een van hierdie mense het geleer dat die Jode die blaam moet dra vir elke vorm van boosheid wat ons wêreld teister en dat NASA die bene van dinosaurusse op die maan gevind het maar saamgesweer het om dit geheim te hou. Op ‘n ander stadium het hy egter weer beweer dat die mens nog nooit op die maan was nie en dat die getuienis daarvan net ‘n sameswering is! Ja, hierdie is een van die mees prominente sprekers, uitsaaiers en skrywers teen dwaling!

Leer hulle die waarheid of waarsku hulle net teen dwaling? Verskaf hulle ‘n teen-argument teen die dwaling of kan hulle net bloot uitwys wat verkeerd is? Die Here en Sy Woord openbaar nooit net die probleem sonder dat ‘n oplossing nie ook tot ons beskikking gestel word nie. Ja, die Bybel waarsku ons teen sonde, maar dit gee ook aan ons die oplossing – die kosbare bloed van Jesus Christus! Dit openbaar aan ons die verdorwenheid van die mens maar bied ook God se vryspraak aan diegene wat glo (Rom 3:22-23).

Onderskeidings- en apologetiese bedieninge word nie gevrywaar van die kontrole maatreëls wat ons in die loop van die reeks bespreek het nie. Dit is nodig dat hulle en hulle werk nagegaan en getoets word. Die slegte moet verwerp word terwyl die goeie waardeer moet word. Ek dring by jou aan om seker te maak welke van hierdie bedieninge vertrou kan word en maak ‘n punt daarvan om hulle materiaal gereeld te lees. As jy ‘n leraar of prediker is, behoort jy self jaarliks ‘n goeie onderskeidings konferensie by te woon sodat jy gewaarsku kan word en bedag kan wees op die nuwe slinkshede wat die Bose mee na vore kom.

Indien jy die dienste van ‘n onderskeidings bediening gebruik, dan moet jy hulle asseblief ook ondersteun deur jou gebede, bemoediging en gawes. Die goeies sal nooit oor hulle behoeftes praat nie, maar hulle het baie aanmoediging, bemoediging en finansies nodig om die bediening aan die gang te hou – help hulle sodat hulle jou beter kan bedien. Maar bo alles, bid vir hulle. Dit verg baie dapperheid om vir die waarheid op te staan en hulle betaal dikwels ‘n hoë persoonlike prys vir hulle standpunte. Hulle staan ook voortdurend onder die aanval. Hulle het jou gebede en bemoediging bitter nodig.

Die feit dat Nehemia die wag opgestel het en sommige aangewys het om wapens te dra, het nie die res van die volk daarvan gevrywaar om self op die uitkyk te wees nie: “Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand ‘n wapen vasgehou. Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly. Ek het vir die vooraanstaande burgers, die ampsdraers en die res van die volk gesê: ‘Die werk is groot en uitgestrek, en ons is oor die hele muur uitgesprei, elkeen ver van die naaste man af. Waar julle ook al die ramshoring hoor blaas, daar moet julle by ons saamtrek. Ons God sal vir ons die stryd voer” (Neh 4:17-20).